|
Wat gaan aan in die verskepingsbedryf? Al waarvan ons seker kan wees in die Suid-Afrikaanse uitvoermark vir vrugte hierdie seisoen is die knaende onsekerheid. Die vrugte is immers daar, en dit moet vervoer word, maar waarheen en veral hóé moet dit vervoer word? Wat al die rolspelers in Suid-Afrika in gedagte moet hou, is dat Suid-Afrikaanse uitvoerders nie net met mekaar nie, maar veel meer met die Suid-Amerikaanse vrugtebedryf meeding. Dit is veral die geval in die markte van die VK en NWK, en die realiteit is ongelukkig dat wie ook al die vrugte teen die beste prys kan uitvoer, die kontrak sal beklink. Die ergste van alles is dat 40' HC-houerskepe se tariewe vir Suid-Amerika na Europa met 50% geval het, maar in Suid-Afrika is die houerskipvaartlyn-tariewe met tot soveel as 20% vanaf 2008 verhoog. Hoe kan dit geregverdig word? Die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf, wat vergelykenderwyse steeds betreklik sterk is, kan definitief nie gebruik word om die verliese wat deur die ander bedrywe gely is, te verhaal nie. Nog ’n belangrike faktor om in gedagte te hou is die feit dat konvensionele verskeping in 2008 die laaste uitweg was vanweë die hoë koste. Hierdie seisoen lyk dinge egter beduidend anders. Bunkerpryse is in sommige gevalle minder as ’n derde van wat hulle ’n jaar gelede was, konvensionele huurskip-tariewe is baie mededingend en met die buitensporig hoë houervrag-tariewe is die mark wyd oop vir konvensionele verskeping om ’n terugkeer te maak, en om mededingend te wees. By GoReefers het ons nog altyd munt geslaan uit geleenthede in die huurskip-mark om te verseker dat ons kliënte, indien nodig, oor voldoende verskepingsopsies beskik. Daarom bly ons altyd op datum en in aanvoeling met skeepvaartskedules, hoeveel beskikbare ruimte die stoorkamers het, hoe die houervrag-tariewe vergelyk en wat ons kliënte se behoeftes is. En ons sal aanhou om dit te doen. Ek stel voor dat die houerskipvaartlyne alle faktore in berekening bring en nie te arrogant of selfvoldaan word nie. Vir baie jare het hulle gesukkel om die hoëvolume-sitrusmark by die konvensionele vaartlyne af te vat en nou loop hulle die gevaar om die einste mark waarvoor hulle so lank moes wedywer, te verloor.
|